AFGRI Opbergingsooreenkoms

1. ALGEMEEN

Hierdie kontrak tussen AFGRI Graanbestuur, a divisie van AFGRI Agri Dienste (Edms) Beperk, registrasienommer: 1995/005872/07 of AFGRI Grain Silo Company (Edms) Beperk, registrasienommer: 2016/440533/07, welke entiteit ookal van toepassing sal wees (“die Graansilo-eienaar”) en die teenparty (“die Graansilo-gebruiker”) handel oor produk en oliesade (hierna genoem die “produk”) wat die Graansilo-gebruiker in die bedryfspunt van die Graansilo-eienaar wil opberg en die dienste wat die Graansilo-eienaar teen betaling in die verband bereid is om aan die Graansilo-gebruiker te lewer. Dit behels ook ʼn onderneming van die Graansilo-eienaar aan die Graansilo-gebruiker om ʼn produk van dieselfde kwaliteit en kwantiteit soos vermeld in die kontrak aan die Graansilo-gebruiker te lewer. Hierdie kontrak is geldig totdat ʼn nuwe kontrak tussen die partye beding word.

2. PRODUK

Alle produkte hanteer deur die Graansilo-eienaar.

3. KWANTITEIT

3.1 Netto massa soos gelewer by die opbergfasiliteit soos per silosertifikaat/ontvangsbewys.

3.2 Die produk word in die opbergfasiliteit ontvang nadat die volgende aanpassings vir fisiese en hanteringsverliese vir die volgende gemaak is:

3.2.1 mielies 0.75%

3.2.2 sorghum 1.5%; en

3.2.3 sojabone 0.3%.

3.3 Die aanpassing waarna in klousule 3.2 hierbo verwys word, kan van tyd tot tyd deur die Graansilo-eienaar gemaak word deur die Graansilogebruiker skriftelik (deur middel van ’n omsendbrief of ander vorm van kommunikasie) in kennis te stel en sodanige wysiging sal van krag wees vanaf die datum wat sodanige omsendbrief of kommunikasie vir die eerste keer deur die Graansilo-eienaar gepubliseer word.

3.4 In die geval van sonneblom, koring en sojabone word die werklike persentasie vreemde materiaal afgetrek. In die geval van ingevoerde produkte sal ’n addendum met bykomende aftrekking en aanpassings tussen die Graansilo-eienaar en Graansilogebruiker gesluit word.

3.5 Enige aanpassing/s ingevolge hierdie kontrak sal gemaak word in ooreenstemming met die Graansilo-eienaar se praktyke en/of standaardbedryfspraktyke.

4. KWALITEIT

Die kwaliteit van die produk voldoen aan die graderingsregulasies van die direktoraat plant- en gehaltebeheer van die Nasionale Departement van Landbou spesifikasies soos per wet op Landbouprodukstandaarde Wet 119 van 1990; en of die Graansilo-gebruiker wat die produk by die Graansilo-eienaar se bedryfspunt lewer bevestig hierin dat sodanige produk voldoen aan die vereistes van die wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels Wet 36 van 1947 soos gewysig asook die wet op Voedingsmiddels, Skoonheidsmiddels en Ontsmettingmiddels Wet 54 van 1972 soos gewysig en waar van toepassing. Die wette vereis dat produk slegs met wettige chemiese middels volgens die voorskrifte behandel en dus geskik is vir menslike gebruik.

5. NIE-GENETIESE GEMODIFISEERDE ORGANISMES

5.1 Wanneer die produk wat geberg word, nie genetiese gemodifiseerde organismes bevat nie (GMO vry), soos in gevolge die wet op Genetiese Gemodifiseerde Organismes Wet 15 van 1997 soos gewysig deur die wet op Genetiese Gemodifiseerde Organismes Wet 23 van 2006, sal ’n spesifieke protokol deur die Graansilo-eienaar gevolg word nadat ’n skriftelike versoek deur die Graansilo-gebruiker gerig is. Hierdie genoemde protokol is by AFGRI hoofkantoor (graanbestuur) beskikbaar, en slegs sekere bedryfspunte hanteer GMO vrye graan, wat vooraf gereël en geïdentifiseer word.

5.2 Indien die Graansilo-gebruiker nie die aanvaarde protokol volg en onderteken nie, kan die Graansilo-eienaar geen waarborg aan die Graansilo-gebruiker gee rondom die status van die nie genetiese gemodifiseerde produk nie.

5.3 Nie-genetiese gemodifiseerde produk wat aanvanklik op produsente opbergingfolio gelewer was, kan nie later as protokol-produk opgeneem word nie, tensy daar ’n skriftelike vooraf reëling met die Graansilo-eienaar in plek was.

6. BEDRYFSPUNT

Bedryfspunt verwys na alle bedryfspunte binne die AFGRI groep waar die produk ontvang en opberg word.

7. BEROKING EN DROGING

Alle produkte sal volgens die voorskrifte van die wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels Wet 36 van 1947 berook word. Geen sertifikate (elektronies, papier of SAFEX sertifikate) sal uitgereik word alvorens die produk onder beroking uit is of nadat dit gedroog is nie. Produkte sal eers uitgelaai kan word nadat dit berook is en die blootstellingstydperk van die beroking op die spesifieke produk verstryk het en indien dit gedroog word, eers nadat die drogingsproses voltooi is.

8. MEDE-EIENAARSKAP

8.1 Die Graansilo-eienaar en elke Graansilo-gebruiker en elke oordraggewer en oordragnemer van produk stem hiermee ooreen dat:

8.1.1 die Graansilo-eienaar sal die produk stoor vir die Graansilo-gebruiker, wat die stoorkostes sal betaal in terme van tariewe soos bepaal in hierdie kontrak;

8.1.2 indien die produk wat geberg word vermeng word met produk wat reeds in die bedryfspunt geberg word, dan sal die gevolgde massa die gesamentlike eiendom van die verskeie Graansilo-gebruikers word, elke Graansilo-gebruiker sal dus ʼn onverdeelde aandeel wat uitgedruk word as ʼn gedeelte gelyk aan die kwosiënt van die totale massa van tyd tot tyd, verdeel deur die grootmaat van elke individuele deposito van produk en so aangepas volgens dieselfde formule wanneer ook al ʼn gedeelte van die produk onttrek of aangevul word van die bedryfspunt deur een of meer van die mede-eienaars;

8.1.3 die Graansilo-eienaar is gemagtig om as agent in rem suam van elke Graansilo-gebruiker te handel deur hom/hulle te bind aan die mede-eienaarskap van die produk en om sodanige mede-eienaarskap aan te pas en verder om sodanige aandeel van mede-eienaarskap aan te pas en verder om ʼn aanpassing te maak in die geval van ʼn verdere aanvulling of ontrekking van graan;

8.1.4 die Graansilo-eienaar behou die produk vir en namens elke mede-eienaar tydens die voortdurende berging van die produk en die Graansilo-eienaar erken hiermee dat hy nie die eienaar of mede-eienaar van die produk is nie;

8.1.5 die Graansilo-eienaar erken hiermee dat die Graansilo-gebruikers hul verskeie aandele in die gevolgde massa mag verkoop, in welke geval die silo sertifikaat oorgedra sal word aan die koper ooreenkomstig die terme van sodanige verkoop. Nieteenstaande die bogenoemde of enigiets anders genoem in die kontrak, sal die Graansilo- gebruiker nie geregtig wees om sy eienaarskap van sy aandele oor te dra tensy die toepaslike silo sertifikaat oorgedra is aan die oordragnemer nie. Verder, in die geval dat die Graansilo- gebruiker nie die voormelde silo sertifikaat kan oordra nie sal die Graansilo-gebruiker nie geregtig wees om sy onderskeie aandele te verkoop nie tot en met die tyd wanneer die oordraggewer lewering geneem het en die produk die stoor fasiliteit verlaat het nie; en

8.1.6 met oordrag van die bogenoemde silo sertifikaat sal die Graansilo-eienaar voortaan die produk namens die nuut saamgestelde liggaam van mede-eienaars behou, insluitend die oordragnemer van die silo sertifikaat en verklaar hiermee dat hy die regte van enige opvolgende houer van die silo sertifikaat sal erken en onderhou in terme van die bepalings aangeteken.

9. VERSEKERBARE RISIKO’S

9.1 Die Graansilo-eienaar moet alle produkte wat in sy bedryfspunt opgeberg word verseker teen versekerbare risiko’s.

9.2 Die Graansilo-eienaar sal nie aanspreeklik wees vir enige verlies aan wins of besigheid of enige indirekte of voortvloeiende verlies, skade, kostes en uitgawes voortspruitend uit hierdie kontrak nie.

9.3 Nieteenstaande enige klousule tot die teendeel wat in hierdie kontrak vervat is, is die Graansilo-eienaar se aanspreeklikheid beperk tot die markwaarde van die produk ten tye van die ongeluk wat die skade veroorsaak het tensy die Graansilo-eienaar en Graansilo-gebruiker anders ooreenkom.

9.4 Die Graansilo-eienaar sal geregtig wees om die bestaan of omvang van enige tekort en/of enige bedrag wat geëis word, te betwis, mits hy/sy voldoende skriftelike kennis aan die Graansilo-gebruiker gee wat die gronde van die dispuut uiteensit.

10. REG VAN RETENSIE

10.1 Die Graansilo-eienaar het ʼn retensiereg op produkte wat in die bedryfspunt opgeberg word vir die betaling van silodienskoste en/of vir die betaling van enige skuld, koste of uitgawe, hoe ook al aangegaan, wat aan enige ander van die AFGRI groep maatskappye verskuldig is. Die retensiereg word beperk tot die waarde van die produk wat gelykstaande is aan die totale uitstaande skuld.

10.2 Die Graansilo-eienaar het ʼn vorderingsreg op alle opbrengste wat uit die verkoop van graanprodukte voortspruit vir betaling van die skuld soos uiteengesit in klousule 10.1.

11. VERMENGING VAN PRODUK

Die Graansilo-eienaar mag produkte van dieselfde soort vermeng met die verstande dat die produk wat by ontrekking deur die Graansilo-gebruiker nie aan die oorspronklike graad voldoen nie, deur middel van ʼn afrekening (by wyse van opgradering of afgradering) reggestel word. Die regstellende betaling tussen die Graansilo-eienaar en die Graansilo-gebruiker vind op die dag van ontrekking plaas en word bereken op die prysverskil met die produk B1 graad as algemene basis.

12. SILODIENSTARIEWE EN RENTEKOERS

12.1 Die Graansilo-gebruiker sal die Graansilo-eienaar die toepaslike tarief vir elke bemarkingsjaar soos van tyd tot tyd gepubliseer deur die Graansilo-eienaar betaal. Die tariewe is by die Graansilo-eienaar beskikbaar op aanvraag.

12.2 Die Graansilo-eienaar het die reg om rente, bereken teen ʼn premie soos van tyd tot tyd deur die Graansilo-eienaar aangekondig (tans ABSA se primakoers plus 3% – daagliks bereken en maandeliks gekapitaliseer), vir die periode wat silodienskoste agterstallig is, op sodanige uitstaande silodienskoste te verhaal. Die Graansilo-gebruiker kry 30 (dertig) dae na uitreiking van maandstate rentevrye tyd vir betaling van uitstaande rekening. Indien uitstaande skuld nie vereffen is na afloop van die 30 (dertig) dae na staat nie, sal die Graansilo – eienaar rente hef soos hierbo uiteengesit.

12.3 Alle tariewe sluit belasting op toegevoegde waarde (btw) uit.

12.4 Die produk hoef nie deur die Graansilo-eienaar aan die Graansilo-gebruiker gelewer te word, of ʼn silosertifikaat of SAFEX sertifikaat uitgereik word, alvorens alle dienskoste betaal is nie. Die Graansilo- eienaar is geregtig om voldoende produk in silo te hou as sekuriteit vir uitstaande silokoste verskuldig deur die graansilo-gebruiker.

13. VERSENDING VAN DIE PRODUK

13.1 Die Graansilo-gebruiker moet skriftelik kennis van voorneme om die produkte uit die bedryfspunt te onttrek minstens 7 (sewe) werksdae vooraf aan die hoofkantoor van die Graansilo-eienaar gee, ten einde die nodige logistieke reëlings te tref. Uitlaaitye moet ten minste 7 (sewe) dae voor onttrekking by die betrokke bedryfspunt waar die produk opgeberg word, geboek word.

13.2 Geen produk mag onttrek word sonder ʼn geldige versendingsinstruksie wat deur die Graansilo-eienaar uitgereik is nie.  Indien NIE-GMO produk namens ’n klant opgeberg word, moet daar met die aanvraag van die instruksie duidelik aangetoon word dat die instruksie vir NIE- GMO produk aangevra word. Indien dit nie duidelik skriftelik versoek is nie sal geen eise teen die Graansilo-eienaar ingestel kan word nie.

13.3 Die Graansilo-gebruiker mag die produk met 7 (sewe) dae vooraf skriftelike kennisgewing aan die Graansilo-eienaar onttrek vanaf bedryfspunt waar die produk opgeberg word.

13.4 Dit is die Graansilo-gebruiker se verantwoordelikheid om vervoer te reël.

13.5 Die Graansilo-gebruiker waarborg dat hy ’n geldige vervoerooreenkoms vir die versending van die produk aangegaan het, welke vervoerooreenkoms voldoen aan die voorgeskrewe vereistes van die wet op Nasionale Padverkeer Wet 93 van 1996.

13.6 Die Graansilo-gebruiker waarborg dat die produk verseker is vir vervoerdoeleindes.

13.7 Die Graansilo-gebruiker vrywaar die Graansilo-eienaar spesifiek teen enige skade wat die Graansilo-eienaar kan ly as gevolg van die Graansilo-gebruiker se nie-nakoming van hierdie klousule 13. Die Graansilo-gebruiker vrywaar die Graansilo-eienaar verder teen enige skade wat laasgenoemde mag ly vanweë die feit dat hy ’n versender is ingevolge die wet op Nasionale Padverkeer Wet 93 van 1996.

13.8 Indien die produk wat deur die Graansilo-gebruiker ontvang word, nie ooreenkom met die graad (met inagneming van paragraaf 12), massa of voginhoud soos aan hom versend nie of indien dit insekbesmet is, moet die Graansilo-gebruiker die Graansilo-eienaar in kennis stel en nie die produk aflaai nie. Telefoniese sowel as skriftelike kennisgewing moet die Graansilo-eienaar binne 24 (vier en twintig) uur na aankoms van die produk by die Graansilo-gebruiker se naaste stasie/s of perseel bereik, by gebreke waarvan die Graansilo-gebruiker verplig sal wees om die produk te aanvaar asof dit gelewer is soos versend. Waar naweke of publieke vakansiedae van toepassing is, moet kennisgewing binne 48 (ag ten veertig) uur geskied.

13.9 Die Graansilo-eienaar sal nie verantwoordelik gehou word vir enige staangeld of enige eise wat gehef word indien die korrekte eise prosedure soos omskryf hierdie ooreenkoms nie gevolg is nie.

13.10 Indien klante volgens die Graansilo-eienaar herhaaldelik onbillike dispute verklaar, mag die Graansilo-eienaar besluit om die produk aan die betrokke Graansilo-gebruiker op n ex-silo basis uit te laai. Hierdie reeling sal skriftelik per brief of per e-pos aan die Graansilo-gebruiker bevestig word. Die Graansilo-gebruiker sal egter die reg he om elke besending te inspekteer voordat dit die Graansilo-eienaar se perseel verlaat. Indien die Graansilo-gebruiker in hierdie geval nie die produk wil inspekteer voordat dit die perseel verlaat nie sal die versending as n ex-silo versending geag word en die Graansilo-gebruiker sal geen dispuut of enige eise op hierdie versendings he nie.

13.11 Alle produkte wat versend word na persone / instansies buite die grense van die Republiek van Suid Afrika, word op n ex-silo basis versend, behalwe as die partye ooreenkom dat dit op n ander basis gedoen sal word.

13.12 Die implikasie hiervan is dat alle besendings produk deur die eienaar van die produk of sy verteenwoordiger nagegaan moet word om hom / haarself te vergewis van die kwaliteit en kwantiteit van elke besending.

13.13 Geen eise sal teen die Graansilo-eienaar ingestel kan word indien die kwaliteit en kwantiteit by die eindbestemming buite die grense van die die Republiek van Suid Afrika verskil van die kwaliteit en kwantiteit soos by die bedryfspunt binne die Republiek van Suid Afrika versend nie.

13.14 Die verantwoordelikheid om die produk by die bedryfspunt vanwaar die produk versend word te inspekteer bly die aanspreeklikheid van die Graansilo-gebruiker en indien die Graansilo-gebruiker nalaat om dit te doen word aanvaar dat die Graansilo-gebruiker tevrede met die kwaliteit en kwantiteit is en daar sal dus geen eise teen die Graansilo-eienaar ingestel kan word indien die kwaliteit en kwantiteit by die eindbestemming verskil nie.

13.15 Waar die Graansilo-gebruiker van padvervoer gebruik maak, is die Graansilo-gebruiker self verantwoordelik vir die reël en beheer van die vragmotors. Geen vragmotors sal deur die Graansilo-eienaar gelaai word indien die vragmotors nat, vuil of in so ’n toestand is dat dit nie voldoen aan toepaslike wetgewing en regulasies nie.

13.16 Indien die Graansilo-gebruiker meer produk benodig as wat die bergings fasiliteit voorraad het, sal die Graansilo-eienaar die reg behou om ʼn voorraad of finansiële aanpassing te maak wat die Graansilo-gebruiker verplig sal wees om te aanvaar.

14. FORCE MAJEURE

Die Graansilo-eienaar sal nie verantwoordelik wees vir enige vertraging in die lewering van die produk of enige gedeelte daarvan indien dit teweeggebring is deur enige daad van God, aksie deur die regering, staking, ontploffing, vloede, oproer, oorlog, ongeluk, embargo, wetgewing, burgerlike opstand, onrus, enige kragonderbrekings en/of krag tekort, insluitend maar nie beperk tot beurtkrag nie of enige ander oorsaak of gebeurlikheid nie. Die Graansilo-gebruiker sal nie enige eis teen die Graansilo-eienaar kan instel vir die vertraging of nie-lewering ingevolge hierdie klousule nie.

15. KENNISGEWING

Enige kennisgewing wat na 16:00 op ʼn besigheidsdag ontvang word sal beskou word asof dit op die daaropvolgende besigheidsdag ontvang is. Enige kennisgewing ingevolge hierdie kontrak sal gegee word per brief (indien afgelewer per hand op die dag waarop dit geskryf is) of per faksimilee of epos.

16. NIE-BESIGHEIDSDAE

Saterdae, Sondae en die amptelike erkende en/of wettige vakansiedae sal nie-besigheidsdae wees.  Indien enige tydbeperking vir enige handeling of kennisgewing val op ʼn nie-besigheidsdag, sal die tyd wat so beperk word verleng word tot die eerste besigheidsdag daarna.

17. ARBITRASIE

17.1 Enige dispuut tussen die partye van watter aard ook al, voortspruitend uit die kontrak, sal besleg word deur middel van arbitrasie of bemiddeling op die wyse wat in hierdie klousule uiteengesit word. Die voorwaardes van die Wet op Arbitrasie Wet 42 van 1965 sal van toepassing wees op die arbitrasieprosedures.

17.2 Die arbitrasie sal plaasvind op ʼn plek soos tussen die twee partye ooreengekom en sal so spoedig moontlik plaasvind en afgehandel word nadat skriftelike kennisgewing deur een party aan die ander gegee is dat ʼn dispuut ontstaan het, en versoek is dat die dispuut by wyse van arbitrasie opgelos word.  ʼn Afskrif van die kennisgewing sal terselfdertyd gestuur word aan die Vereniging van Arbiters (Suidelike Afrika) waarin hulle versoek word om ʼn voorsitter aan te wys vir die arbitrasie tribunaal wat volgens klousule 17.3 vasgestel word.

17.3 Elke party sal binne 5 (vyf) besigheidsdae nadat enige party versoek het dat die dispuut by wyse van arbitrasie opgelos word ʼn onafhanklike persoon wat bekend is met die graanbedryf aangewys om op te tree as arbiter. Indien ʼn party in gebreke bly of weier om ʼn persoon in terme van klousule 17.3 aan te wys, sal ʼn arbiter namens hom aangewys word.

17.4 Die party teen wie ʼn toekenning deur die arbitrasie tribunaal gemaak word is geregtig om binne 10 (tien) besigheidsdae nadat hy daarvan kennis gekry het skriftelik appèl by die Vereniging van Arbiters (Suidelike Afrika) aan te teken in welke geval Reël 26 van die Reëls van Optrede vir Arbitrasie (1997) soos gepubliseer deur die Vereniging van Arbiters (Suidelike Afrika) van toepassing sal wees.

17.5 Die party in wie se guns ʼn toekenning gemaak word kan, indien hy dit nodig ag, versoek dat die toekenning ʼn bevel van die Hof gemaak word.

17.6 Die partye kom ooreen om te hou by die reëls, fooie en uitgawes van die Vereniging van Arbiters (Suidelike Afrika).

17.7 Indien die party teen wie ʼn finale toekenning gemaak is gebreke is om binne 21 (een en twintig) dae nadat die toekenning gemaak is te voldoen aan die voorwaardes van die toekenning soos aan hom meegedeel is, kan die ander party dit rapporteer aan die verenigings wat hierdie kontrakvorm aanvaar het en kan hierdie verenigings die naam van sodanige party en die voorwaardes van die toekenning publiseer.

17.8 Die partye betrokke kan, indien hulle daartoe instem, ʼn bemiddelaar aanstel, wat vir albei partye aanvaarbaar sal wees, wat sal poog om toe te sien dat die twee partye sal ooreenstem tot die oplossing vir die dispuut. Enige ooreenkoms waartoe die twee partye ooreengekom het in die oplossing van die dispuut sal bindend wees op albei partye.  Indien die twee partye op enige tyd gedurende die arbitrasieproses besluit om die dispuut by wyse van bemiddeling te besleg, sal die arbitrasieprosedures gestaak word en sal die voorskrifte van hierdie subklousule van toepassing wees. Indien die dispuut nie deur meditasie besleg word nie, sal die arbitrasieprosedures hervat word.

17.9 Nieteenstaande die bepalings en voorwaardes vervat in hierdie klousule 17 sal beide partye geregtig wees om n toepaslike hof te nader vir dringende regshulp.

18. ADRES VIR DIENSTE EN KENNISGEWINGS

18.1 Graansilo-eienaar en Graansilo-gebruiker kies die volgende adresse vir dienslewering van dokumente en kennisgewings:

18.1.1 Graansilo-eienaar: AFGRI Gebou, 12 Byls Bridge Boulevard, Highveld, Centurion.

18.1.2 Graansilo-gebruiker:  Die fisiese adres soos in die aanhef van hierdie ooreenkoms gestipuleer is.

19. VOLLE KONTRAK

19.1 Graansilo-eienaar en Graansilo-gebruiker kom ooreen dat hierdie dokument die volle kontrak tussen hulle verteenwoordig en dat geen wysiging of verandering daaraan van enige krag of effek sal wees tensy dit op skrif is en deur beide partye onderteken is nie.

19.2 Die Graansilo-eienaar (of enige persoon aan wie sy regte en/of verpligtinge oorgedra is in terme van hierdie ooreenkoms) sal ter enige tyd geregtig wees om, sonder die toestemming van en/of kennisgewing aan die Graansilo-gebruiker, enige of alle regte en/of verpligtinge in terme van hierdie ooreenkoms, te sedeer, toe te wys, oor te dra of te delegeer aan enige persoon(e).

20. AFSONDERLIKHEID

Elke bepaling in die ooreenkoms is afsonderlik van alle ander bepalings, nieteenstaande die manier waarop hulle grammatikaal gegroepeer en verbind is en as in terme van enige uitspraak of bevel, enige bepaling, segswyse, sin, paragraaf of klousule gevind is om gebrekkig of onafdwingbaar om enige rede, sal die oorblywende bepaling, segswyse, sin, paragraaf of klousule nogtans van volle krag en effek wees. In die besonder en sonder beperking van die algemeenheid van die voorafgaande, erken die partye hulle voorneme om gebind te bly aan die oorblywende bepalings van die ooreenkoms, nieteenstaande dat die bepaling onafdwingbaar, nietigbaar of nietig gevind mag word, in welke geval die onafdwingbare, nietigbare of nietige bepaling uitgehaal sal word uit die ander bepalings, elke een wat met volle krag sal voortgaan.

21. DIREKTE BEMARKING

Die Graansilo-gebruiker verklaar hiermee dat die Graansilo-gebruiker nie hierdie ooreenkoms aangegaan het as gevolg van enige kontak wat gemaak is in persoon of deur pos of deur enige elektroniese kommunikasie deur die Graansilo-eienaar of sy verteenwoordiges nie, hetsy vir die direkte of indirekte doel om goedere of dienste te bevorder of te verskaf nie.

22. ONDERTEKENING

Die partye kom spesifiek ooreen dat hierdie ooreenkoms in terme van die ELEKTRONIESE KOMMUNIKASIE EN TRANSAKSIES Wet 25 of 2002 onderteken (en gewysig) mag word. Die definisies “op skrif” en “onderteken” sal die betekenis he wat aan hierdie definisies toegeskryf word onder die ELEKTRONIESE KOMMUNIKASIE EN TRANSAKSIES Wet 25 of 2002.