Só bestuur die twee vroue hul suksesvolle stoetery

Hulle is nie bang om te leer nie en het ’n suksesvolle stoetery omdat hulle op die belangrike eienskappe van hul skaapras klem lê. Met goeie bestuur, baie geesdrif en ervaring wat oor twee dekades opgebou is, het twee vroueboere van Clocolan, Maria Smit en Elzette van Rooyen van die Elzé-boerdery, só baie sukses met hul Ile de France-stoetery behaal dat een van hul ramme op die tweede skou waaraan hulle deelgeneem het, as die opperste kampioen aangewys is. Hierdie stoetery is in 2018 aangewys as die kleinveewenner in Vleissentraal en SA Stamboek se Elite-kuddes van die Jaar-kompetisie.