‘Ons is boere in murg en been’

Louis Claassen, die vierde geslag Claassen wat boer, het ses jaar gelede sy Vrystaatse wortels opgetrek om ’n besproeiingsboer te word, al het hy niks van aartappels geweet nie. Danksy die ondersteuning van ’n uitstekende span en die hoë standaarde wat hy vir homself gestel het, het hy egter verlede jaar die eerbewys as Moerkweker van die Jaar ontvang. Benewens moere by Christiana plant hy ook lusern, koring, springmielies, katoen en kommersiële aartappels by Hartswater. Voorheen het hy saam met sy pa en broer tussen Parys en Sasolburg op droëland met mielies en ander somergewasse geboer.