‘Boer saam met die natuur’

’n Goeie stoetteler moet dapper en eerlik teenoor homself en ander wees en die moed hê om die regte besluite te neem, sê mnr. Clynton Collett, wat as SA Stamboek se Kleinveestoetteler van die Jaar vir 2019 aangewys is. Hy moet ook ’n baie goeie waarnemingsvermoë hê. Clynton se Meatmasterstoetery is as SA Stamboek se Elite-kleinveestoetkudde van die Jaar aangewys. Hy boer op die plaas La Rochelle by Venterstad in die Oos-Kaap. Hy het die Meatmasterras in 1994 begin ontwikkel as ’n skaap waarmee hy met so min moontlik uitgawes en dus so winsgewend moontlik op sy plaas kan boer.