Landbouweekliks: ‘Benut geleenthede 120%’

Ons kuier by mnr. CA van Niekerk van die plaas Ratelfontein tussen Williston en Calvinia in die Noord-Kaap. Hulle het ’n ekstensiewe skaapboerdery met Dohne-Merino’s en lusern onder saaidambesproeiing (’n vloedbesproeiingstelsel). Dié unieke saaidamstelsel se infrastruktuur bestaan al meer as 100 jaar. Die gebruik van bakke of saaidamstelsels om gewasse te kweek word ingespan waar die grond ’n baie lae infiltrasietempo het, soos hier langs die Vis- en Renosterrivier. CA glo daarin om natuurlike hulpbronne te benut.