Die week op Landbouweekliks | Deon Schröder dink nuut oor suikerproduksie

Deon Schröder boer op die familieplaas naby Dalton in die KwaZulu-Natalse Middelland. Die boerdery bestaan uit 600 ha droëlandsuikerriet, 150 ha hout en ’n klein beeskudde. Die suikerrietopbrengs het rekordvlakke bereik sedert Deon herlewingslandboupraktyke begin toepas het. Sy hoofbeginsels is: Versteur die grond so min moontlik; bedek die grond soveel moontlik met organiese materiaal; hou lewende wortels so lank moontlik in die grond; bevorder biodiversiteit bo en onder die grond; en gebruik vee om grondgesondheid te verbeter.