Brief Aan Kliente

25 Maart 2020

 

Geagte kliënt,

 

 

Suid-Afrika gaan vanaf Vrydag 27 Maart 2020 (vanaf Donderdagaand om middernag) in algehele afsondering om die verspreiding van die nuwe koronavirus te probeer stuit. Die verpligte afsondering sal vir 21 dae van krag wees (“die afsonderingsperiode”).

 

 

Gedurende hierdie tyd moet alle besighede en dienste sluit, behalwe vir die beperkte lys ondernemings wat vrygestel is, omrede dit as noodsaaklik geag word vir die gesondheid en veiligheid van Suid-Afrikaners (“vrygestelde besighede en dienste”).

 

 

Die vrygestelde besighede en dienste sluit in:

 

  • Landbou- en voedselverwante bedrywighede, boerdery, veeartsenykundige dienste en fitosanitêre verskaffers, plaagbeheerdienste, chemiese – en kunsmisverskaffers.

 

  • Vervaardigers en prosesseringsfasiliteite van voedselprodukte, drinkbare vloeistof en noodsaaklike produkte.

 

  • Pakhuise, vervoer en logistiek van voedsel, noodsaaklike produkte en gesondheidsverwante goedere.

 

  • Hawens, sowel as pad- en spoornetwerke sal oop bly om die in- en uitvoer van noodsaaklike produkte te fasiliteer.

 

  • Afsetpunte van voedsel – klein- en groothandelaars, spaza-winkels en inkopiesentrums vir voedsel en noodsaaklike produkte.

 

  • Kritiese bank- en finansiële dienste.

 

 

Hoewel ons wag vir die gepubliseerde gedetailleerde regulasies in terme van die Wet op Rampbestuur, is dit duidelik dat die hele voedselwaardeketting as ‘n noodsaaklike bedryf beskou word, en deel is van die vrygestelde besighede en dienste.

 

 

Die AFGRI Groep, insluitend sy filiale, is deel van die groter voedselwaardeketting.

 

 

Daarvolgens sal die volgende besighede en dienste in die AFGRI Groep operasioneel bly tydens die afsonderingsperiode:

 

 

  1. Alle graansilo’s en -bunkers

 

  1. Alle AFGRI Meganisasietakke en dienste

 

  1. Alle UNIGRO finansiële dienste, insluitend e-Accounts

 

  1. Alle voedselverwerking en vervaardigingsfasiliteite, insluitend AFGRI Veevoere en AFGRI Meulens

 

  1. Hinterland (AFGRI Town and Country) handelstakke.

 

 

Ons werknemers sal toegelaat word om te reis en hierdie dienste aan u te voorsien.

 

 

Ons sal te alle tye verantwoordelik en volgens die regulasies van die Wet op Rampbestuur optreel en indien die situasie verander, sal ons u kontak. Werknemers wie se teenwoordigheid by hul normale werksplek nie as noodsaaklik beskou word nie, sal van die huis af werk. Hetsy hulle van die huis of kantoor af werk, sal hulle steeds bereikbaar wees en poog om dieselfde dienste en produkte te lewer as waaraan u gewoond is.

 

 

Ons kliënte en werknemers se gesondheid en veiligheid is van kardinale belang. Dit is egter ook belangrik om te beklemtoon dat die AFGRI Groep van maatskappye, ons werknemers en ons kliënte deel is van die groter voedselwaardeketting, wat met rede as noodsaaklik beskou word in die land se stryd teen die Covid-19-pandemie. Dit is ‘n voorreg, maar ook ‘n reuse verantwoordelikheid.

 

 

Laastens, wil ons u verseker dat die AFGRI Groep oor die bedryfsplanne en menslike hulpbronne beskik om die nodige ondersteuning aan u, ons gewaardeerde kliënt, te bied in hierdie onseker tye.

 

 

Ons sal voortgaan om met u te kommunikeer oor enige verwikkelinge, insluitend op ons sosiale media-kanale en ons webtuiste.

 

Tinus Prinsloo

 

WNDE UITVOERENDE HOOF: AFGRI GROEP