Boer uit bloubloed-Hereford-familie op Landbouweekliks

Vandeesweek besoek Landbouweekliks dr. Hinner Köster, ‘n dierevoedingkundige en ereprofessor aan die Kansas-staatsuniversiteit in Amerika. Hinner en sy broer, Heiko, bestuur onder meer die Hereford-stoetery Vicedale by Cullinan buite Pretoria, waar hulle ‘n spesiale hartwaterprogram volg.

Landbouweekliks: Simmentalerstoet word op wetenskaplike wyse bestuur

Landbouweekliks kuier by mnr. Johan Styger, ’n Simmentalerstoetteler van Klerksdorp in Noordwes en ook Breedplan se Stoetteler van die Jaar vir 2016. Alle beeste word volledig getoets en gemeet op grond van gewig, karkaseienskappe, heuphoogte, lengte van lyf en bulle se skrotumomtrek. Met hierdie syfers word ’n duidelike genetiese prentjie van elke dier gebou.

Graham Beck het sy oog op Méthode Cap Classique

Graham Beck Wyne het besluit om hom slegs toe te spits op die produksie van Méthode Cap Classiquevonkelwyn. Hy wil nie die grootste produsent in dié kategorie wees nie, maar wel die beste. In die nuutste Landbouweekliks besoek ons dié spogboerdery.

Landbouweekliks Episode 5 – Fokus Insetsel – AFGRI Equipment – Patrick Roux

Landbouweekliks Episode 1 – Fokus Insetsel – AFGRI – Chris Venter: Rol van SA Boere & Landboubesighede

Landbouweekliks besoek De Wetshof se Chardonnay-koning

Vandeesweek kuier Landbouweekliks by die legendariese mnr. Danie de Wet van die bekroonde De Wetshof-wynlandgoed buite Robertson in die Wes-Kaap.

Danie, wat saam met sy twee seuns boer, het al die gesogte 1659-erepenning ontvang en word beskou as die grondlegger van Chardonnay in Suid- Afrika. Hy het dié kultivar begin aanplant ná sy wynstudie in Geisenheim, Duitsland

Landbouweekliks kuier by Charles Back

Landbouweekliks besoek die bekende Fairview-landgoed naby die Paarl. Van wyn, kaas, vleis, jogurt, brood tot olyfolie – mnr. Charles Back, wat verlede jaar as Landbouskrywers SA se Boer van die Jaar aangewys is, glo in landbouprodukte van die hoogste gehalte.

Vrystaatse bewaringsboer leer by Moeder Natuur

Bewaringslandbou maak die natuur die boer se bondgenoot, sê mnr. Izak Dreyer van Vrede in die nuutste episode van Landbouweekliks.

Izak Dreyer van Vrede in die nuutste episode van Landbouweekliks.
Die aanbieder Ivor Price het Dreyer besoek om uit te vind hoekom kunsmis en plaagbestryding taboe is op sy plaas en hoe Dreyer sy Bonsmarabeeste se natuurlike trap- en vreetaksie saam met die diere se mis en urine gebruik om biologiese grondgesondheid te verbeter.

Volgens Dreyer probeer hy by Moeder Natuur leer hoe om die omgewing te benut vir sy boerdery. Dié bewaringsboer het pas sy sesde geenbewerkingoes gelewer en het in die afgelope twee jaar dekgewasse gebruik. Hy het in die afgelope drie jaar sy beste jare ooit in die boerdery gehad, wat hy sien as bewys dat bewaringslandbou nie net goedkoper is nie, maar ook meer volhoubaar.

Kykers sal in die program kan leer hoe hoëdrukbeweiding Dreyer help om suksesvol te boer. Hy praat ook oor sy droom om die koolstofinhoud van die grond op sy plaas te herstel tot waar dit 200 jaar gelede was. “As jou biologie verbeter, begin die grond vir jou werk pleks daarvan dat jy vir die grond werk,” sê Dreyer.

 

Ook in vandeesweek se episode verduidelik mnr. Patrick Roux, besturende direkteur van Afgri Equipment, hoekom maatskappye, soos John Deere, graag nuwe tegnologie eerste aan die Suid-Afrikaanse en Australiese mark beskikbaar stel. Mnr. James Patterson van Aerobotics vertel meer oor die tipe landboudata wat met hommeltuie ingesamel kan word, en hoe boere dié data kan gebruik om besluite te neem. Mnr. Hendrik Smith, bewaringslandboukoördineerder by Graan SA, gesels in die episode oor hoekom die beskerming van die grond op jou plaas so belangrik is en hoe organiese materiaal en diversiteit ’n verskil in grondgesondheid kan maak. Landbou.com se gewilde virtuele veearts, dr. Faffa Malan, waarsku boere in sy insetsel teen parasiete en die siektes wat parasiete dié tyd van die jaar by skape, bokke en beeste veroorsaak.

Ivor kry die geleentheid om sy lyf jaagduiwel te hou in ’n baaluitdaging teen een van Izak se plaaswerkers. Moet ook nie vandeesweek se kompetisie misloop nie. Die prys sal veral WesKapenaars
wat swaarkry onder die droogte, gelukkig maak.

Van Netwerk24

Landbouweeklik fokus op herlewingslandbou

Vandeesweek kuier Landbouweekliks by Izak Dreyer, ’n herlewingslandboupionier van Vrede in die Oos-Vrystaat.

Herlewingslandbou is ’n storie van hoop, want boere kan die natuur inspan om koste op hul plase te verminder.  Izak beoefen geenbewerking en plant suksesvol somer en winter dekgewasse, wat die grond se biologiese gesondheid herstel.

Van Netwerk24

Landbouweekliks bekyk die wonder van Wagyu

Wagyu word beskryf as die kaviaar van beesvleis en in die nuutste episode van Landbouweekliks ontmoet kykers ’n pionier van dié beesras in Suid-Afrika.

Mnr. Brian Angus van die plaas Woodview by Arlington in die Vrystaat het een van die oudste Angusstoeterye in die land. Hy het reeds in 1999 die Wagyu-ras Suid-Afrika help vestig.

Die Japannese beesras is bekend vir ’n besondere marmering van die vet in die vleis wat die smaak en tekstuur verander. Dit staan ook bekend as die eksklusiefste vleis ter wêreld. Angus se dogter, Megan, wat saam met hom boer, sê met reg die ras se vleis is so besonders dat hy homself bemark!

Kykers sal in die episode meer leer oor Angus se boerdery – van sy voerkraal, ontbeningsaanleg en saaiery met mielies waarvan kuilvoer gemaak word tot die Wagyu-beeste. Die Angusfamilie is reeds meer as ’n eeu op die plaas.

Me. Megan Angus, wat bemarking gestudeer het, help haar pa met die bemarking van hul produkte, wat as vakuumverpakte snitte aan ’n verskeidenheid van klante verkoop word.

In ander segmente in die program gesels mnr. Ronald King van PSG met die joernalis Lucille Botha oor die voordele en nadele van uittree-annuïteite, terwyl mnr. Japie van der Westhuizen van SA Stamboek gesels oor die konteks waarin genomika ’n hulpmiddel vir veeboere kan wees. Mnr. Sarel Opperman, groothandelbemarker van Afgri Equipment, vertel meer oor die waarde wat die JCB-telelaaier op jou plaas kan toevoeg.

Mnr. Theo Vorster, ekonoom en uitvoerende hoof van Galileo Capital, vertel meer oor die verskillende toepassings van tegnologie in die landbou en hoe selfs nuwe toetreders tot die mark voordeel uit nuwe tegnologie kan put.

Landbou.com se virtuele veearts, dr. Faffa Malan, gee meer inligting oor muskiet- en muggietyd, en die virussiektes, soos knopvelsiekte, slenkdalkoors en driedaestywesiekte, wat daarmee gepaardgaan.

In dié week se uitdaging probeer die aanbieder, Ivor Price, om ’n bul se saad te tap – beslis die kyk werd!