Dié boerdery word uit ‘n bewaringsoogpunt bestuur

Josias le Roux van Langhoogte Plase naby Caledon in die Wes-Kaap is ’n bekroonde gars-, koring- en skaapboer wat alles uit ’n bewaringsoogpunt aanpak. Hy glo daarin om proaktief te wees, nie belangrike onderhoud op die plaas uit te stel nie, en om op hoogte te bly van landbou-ontwikkelings. Josias verryk sy kennis deur boere- en inligtingsdae by te woon, en maak tyd om navorsing op die internet te doen. Hy glo ingeligte besluite is noodsaaklik om vorentoe te boer.