Die week op Landbouweekliks | Mentorskap laat Dirk Louw se droom gedy

Dirk Louw is ’n voormalige plaaswerker wat self wou boer. Hy het voorheen by André Smith, sy getroue mentor, gewerk met die verstandhouding dat hy mettertyd op sy eie plaas sou boer. Hierdie droom is bewaarheid en nou boer hy al die afgelope dekade kommersieel buite Groblershoop in die Noord-Kaap met pekanneute, lusern, tafeldruiwe, rosyntjiedruiwe en sultanas. In 2019 het Dirk ’n rekordoes van 200 ton rosyne behaal. Hy glo aan harde werk, om jou energie te benut terwyl jy jonk en gesond is, en ondersteuning van jou gesin.