Goeie gene lei tot goeie vleis

Christopher Sparks, ’n argitek, is ’n bekroonde beesteler. Hy benut genomika vir snelle vordering en winsgewende produksie, en gevolglik is Mount Olive Genetics naby Harrismith in die Vrystaat toegespits op goeie gene en die beste vleisgehalte. Die Brangusbeeste kraai hier koning, met Nguni’s kort op hul hakke. Sparks, vorige voorsitter van die Lewendehawe-registrerende Federasie, is verlede jaar op die Aldam-veeskool aangewys as die Suider-Afrikaanse Stoetteler van die Jaar.