Landbouweekliks kuier op Nampo

Japie Grobler van die plaas Karookom op die grens tussen Bothaville en Viljoenskroon in die Vrystaat is een van Suid-Afrika se voorste boere. Hy is voorsitter van Agri Securitas en voormalige voorsitter van Graan SA, Senwes en Agri Suid-Afrika. Japie het twee jaar gelede ’n ernstige motorongeluk oorleef, waarna sy saai-en-veeboerdery groot veranderinge ondergaan het. Sy liefde vir die landbou en nugter uitkyk op die lewe is egter nog dieselfde. Hy sê boerdery is ’n deurlopende leerproses.