Landbouweekliks kuier by suksesvolle Drakensberger-boer

In die tweede episode van Landbouweekliks besoek aanbieder Ivor Price die plaas Quaggafontein naby Zastron om uit te vind hoe dr. Liesel Foster haar Drakensberger-boerdery op wetenskaplike wyse benader.

 

Om winsgewend in dié marginale beeswêreld in die Suid-Vrystaat te boer, verg groot vaardigheid en fyn beplanning. Foster het in haar doktorale navorsing gevind dat die insluiting van natuurlike proteïene in ’n winterlik nie ekonomies regverdigbaar is nie en op so ’n manier behaal sy besparings op wetenskaplike manier.
Foster, ’n voormalige finalis in Voermol se Beesboer van die Jaar-kompetisie, vertel dat mense aanvanklik skepties was oor haar vermoë as beesboer, maar dat baie van mening verander het namate sy haar plek in die gemeenskap volgestaan het.

Dit is vir haar ook belangrik dat sy alles op die plaas kan doen wat haar werkers doen. “Dit was vir my belangrik dat mense na my opkyk. Ek sal hulle nooit vra om iets te doen wat ek nie self bereid is om te doen nie.”
Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad, gesels ook in dié episode met mnr. Richardt Venter van AGSCI oor meetbare standaarde vir voergehalte en hoe boere dit kan verbeter. Lucille Botha vra mnr. Ronald King van PSG hoe boere kan beplan om vir hul kinders se opvoeding te betaal, terwyl kykers in die meganisasie-segment meer
kan leer oor John Deere se 8245-trekker en 1725-lugdrukplanter.
Gerrit Bezuidenhout vind by mnr. Arthur Schroder, produkbestuurder by Monsanto, uit hoe saadmaatskappye geelmieliebasters ontwikkel en teel. Die bekende veearts dr. Faffa Malan van Vra vir Faffa-faam gee raad oor hoe boere parasiete by inheemse beesrasse kan bestuur.

Terug op Quaggafontein moet Ivor probeer om ’n jong kalf te vang, te weeg en te merk – met skreeusnaakse gevolge!
Nuwe episodes van Landbouweekliks word elke Dinsdag om 19:30 uitgesaai, met heruitsendings op Sondae om 17:30. Die reeks bestaan uit 26 episodes van ’n halfuur elk. Die program is ook op DStv Now beskikbaar. Landbouweekliks word deur Brand Republic vervaardig en met trots geborg deur Afgri, GWK, Monsanto (Dekalb), PSG, MSD en Hinterland.