Landbouweekliks vier 200 episodes op die kassie!

Hoewel die meeste televisiereekse nie langer as 13 seisoene duur nie, bewys Landbouweekliks volgende week met sy 200ste episode dat dié program immergroen is. Dit beteken 200 van Suid-Afrika se voorste boerderye en diegene aan die spits daarvan is, het reeds in kykers se voorkamers kom kuier. Die aanbieders reis saam met veldspanne die land vol, lê duisende kilometers af, trotseer slaggate, wind, weer en son om dié mense en hul stories oor voedselproduksie die lig te laat sien.
Om enkele hoogtepunte uit te sonder nadat soveel ongelooflike mense besoek is, sou eenvoudig onmoontlik wees. Chris Burgess, Landbouweekblad-redakteur en aanbieder op Landbouweekliks, sê dit is met groot dankbaarheid teenoor die kykers, borge en elke boer wat sy of haar tyd so onbaatsugtig afgestaan het om met Landbouweekliks te gesels, dat die wonderlike mylpaal van ’n 200ste episode gevier kan word.
Kyk die episode Dinsdag om 17:30 op VIA-TV, DStv-kanaal 147.