Planne vir boerdery én werkers

Die span van Landbouweekliks kuier in dié episode by Rustin Shawe, wat verlede jaar aangewys is as KwaZulu-Natal se Jongboer van die Jaar. Hy boer in die bergagtige Groenvleiomgewing van KwaZulu-Natal, tussen Wakkerstroom en Utrecht. Rustin se plaas, Grassfields, is 1 850 m bo seespieël. Die hoogste plek waar beeste kan wei, is 2 200 m bo seespieël. Rustin, ’n Droughtmaster-stoetteler, benut onder meer DNS-tegnologie om sy kudde optimaal te verbeter. Hy is ook besig om sowat 600 ha, met titelaktes en al, aan sy werkers te oorhandig. Die episode word Dinsdag, 17 September 2019, om 19h30 op Via TV (kanaal 147) uitgesaai.