Vanaand op Landbouweekliks | Kersies laat harte warm klop

Gwynet Higgo is ’n sakevrou wat die bekende Constantia-kersiepadstal naby Clocolan in die Oos-Vrystaat bedryf. Haar man, Gerrit, sorg vir die boerdery, en kersies laat sy hart warm klop. Ander vertakkings is beeste en gewasse. Die eerste kersies is in 1953 deur Gerrit se pa, Kempen, aangeplant. Vandag is die Higgo-gesin van die bekendste kersieprodusente in die land. Die boerdery bestaan uit sowat 40 ha kersies onder nette teen die goed gedreineerde steil hellings nagenoeg 1 680 m bo seevlak. Nagenoeg 30% van die plaas se produkte word uitgevoer.