Diversifikasie die sleutel tot Johan Strydom se sukses

Johan Strydom bestuur ’n hoogs gediversifiseerde boerdery naby Lichtenburg in Noordwes. Hy boer met melk- en vleisbeeste, skape en gesaaides. Sy kommersiële Holsteinkudde op die plaas Wolvenfontein bestaan uit sowat 1 200 koeie en verse. Na gelang van die seisoen lewer die melkkudde 13 000 liter tot 13 500 liter melk per dag. Alle voer wat hy op die mielielande verbou en later inkuil, word omgesit in heilsame melk. Hy is ook aktief betrokke by die georganiseerde landbou.

 

 

Boerdery floreer te midde van grondeisstryd

Die Radley-landgoed is ’n familieonderneming in die Onderberg in Mpumalanga. Hulle boer met wild, mango’s, sitrus en suikerriet, en daar is ook ’n Nguni-stoetery. Die boerdery bestuur sy toegekende waterregte só doeltreffend dat meer as 735 ha sitrus, suikerriet en mango’s besproei kan word. Die Radleys moes al twee grondeise hanteer, maar ’n antropologiese ondersoek het bewys dié eise is ongegrond. Daarna moes hulle met die uitgerekte proses begin om hul grond weer “ontlys” te kry

 

Landbouweekliks: ‘Ons deel ’n medemenslikheid’

Colin Forbes, ’n dokter en boer, het in 2011 10% van sy familieplaas aan sy werkers oorgedra. Sy familie boer sedert 1860 naby Amsterdam in Mpumalanga. Hy het 560 ha vrugbare grond aan sy werkers beskikbaar gestel, waarvan hulle sowat 60 ha bewerk. Colin is hul mentor, staan borg vir hul produksielenings en leen ook sy toerusting. Die werkers delg die lenings met die wins uit die oeste en verdeel dan die res.

Landbouweekliks: Grond én vennootskappe gedy

Vusi Khanyile, die voorsitter van die Vusi Khanyilefamilietrust, wat as Afrikan Farms sake doen naby Amers- foort in Mpumalanga, boer met Beefmasters. Hy is verlede jaar aangewys as die beesboer wat die afgelope dekade die beste vordering getoon het. Goeie sakebeginsels dra by tot dié boerdery se sukses, terwyl grondgesondheid bevorder en die gemeenskap opgehef word.

Appels in die Vrystaat? Die Fyvies wys hoe!

Neil en Pam Fyvie van Harrismith is van die min boere wat kans sien om in die riskante Oos-Vrystaat met appels te boer. Dié vertakking bied egter ’n groot uitkoms as droëlandgewasse swaar trek. Neil het twintig jaar gelede 20 ha Royal Gala-, Fuji- en Braeburn-appelbome op die familieplaas Deveron in die grond gesteek en vandag pluk hy letterlik en figuurlik die vrugte.

Beesboer gaan van geoktrooieerde rekenmeester na Stoetteler van die Jaar!

John Devonport, ’n geoktrooieerde rekenmeester, wou nog altyd boer. Hy en sy vrou, Tracey, ’n sakevrou, het in 1988 ’n plaas vir ontspanningsdoeleindes gekoop aan die Vaaldam se boonste oewer naby Villiers. Water’s Edge front 20 km lank aan die dam en huisves die veelbekroonde Devlan Limousin-stoetery. John was in 2006 Breedplan se SA Stoetteler van die Jaar.

 

Leierboer behaal onverwagte sukses in varkbedryf

Neil Dry, president van die Suid-Afrikaanse Varktelersgenootskap, wat vanjaar sy 100ste bestaansjaar vier, het nooit gedink hy sou met varke boer nie. Die Niemen-stoetery naby Magaliesburg is egter in 1997 met net ses wit sôe en een Landras- beer begin en opgebou tot ’n veelbekroonde varkboerdery, waaronder eerste plekke in SA Stamboek se kompetisie vir varkstoeterye.

Weeg-en-Wen-wenners fokus op grondgesondheid

Michael Allen van die plaas Hartebeesfontein, naby Middelburg in Mpumalanga, en sy seun, Gareth, pas al jare lank presisieboerdery toe met mielies en sojabone. Hulle was ook al meermale wenners in Pioneer se Weeg-en-Wen-kompetisie. Michael se geheim is sy erns met grondstatus en hy sê grondgesondheid is sekerlik die grootste oorweging om top-oeste te behaal.

Danie Thomas se spogboerdery van die grond af opgebou

Danie Thomas van Edenville in die Vrystaat het reeds op 12-jarige ouderdom sy eerste melkkoei met spaargeld gekoop en op 17 alleen begin boer. Vandag is sy stoeterye en kommersiële kuddes dié skaapboer se trots. Ná verskeie ander draaie en terugslae herskryf hy deesdae die rekordboeke op veilings met sy suksesvolle Kairos Dormerstoetery.

 

Limpopo-melkboer lewer meer as 10 miljoen liter melk per jaar

Joubert Fourie van Limpopo Dairy by Louis Trichardt is vanjaar SA Stamboek se wenner van die Noord-streek se Elite-suiwelprys. In 1984 het die Fouries sowat 1 200 liter melk per dag gelewer, maar deesdae is hul jaarlikse produksiesyfer meer as 10 miljoen liter.