Op dié plaas word drome ‘n werklikheid

Landbouweekliks kuier vandeesweek in die Klein-Swartbergpas. Mnr. Christof Cloete boer al byna 40 jaar lank met steenvrugte op die plaas Rietvlei in die distrik Laingsburg in die Wes-Kaap. Christof was voorheen voorsitter van Koup Produsente, die landboukoöperasie op Laingsburg wat onlangs sy 75ste bestaansjaar gevier het, asook voorsitter van Agri Wes-Kaap. Hy is ook al meer as 10 jaar lank ’n mentor en mede-aandeelhouer van die bemagtigingsprojek op die nabygeleë plaas Doornkloof. Hierdie plaas se vrugte is bestem vir die droëvrugtebedryf.

Derek Mathews: ‘Weet wat in jou grond aangaan’

Landbouweekliks kuier vandeesweek by mnr. Derek Mathews, ondervoorsitter van Graan SA. Hy boer met mielies, sonneblomme en sojabone op die plaas Silverton by Sannieshof in Noordwes. Hy boer al van 1983 af en is die vierde geslag van sy familie op die plaas. Sedert hy na bewaringsboerdery omgeswaai het, het hy meer as 60 liter brandstof op elke hektaar bespaar. Daar is ook minder las van winderosie. Weens die droogte moes hy al verskeie planne maak om staande te bly. In 2016 het hy Graan SA se eerbewys vir inspirerende leierskap ontvang.

Dié boerdery groei deur goeie geleenthede aan te gryp

Landbouweekliks kuier vandeesweek by Dewald Te Water van die plaas Schurvekop tussen Trichardt en Bethal in Mpumalanga. Dewald het in 1999 by sy ouer broer, Billy, aangesluit nadat die boerdery tot só ’n mate uitgebrei het dat Billy nie meer by alles kon uitkom nie. Dié twee broers het ’n oog vir ’n geleentheid. Die besigheid bestaan uit ’n saai- en beesboerdery, ’n kunsmis- en mielieverwerkingsaanleg en ’n bou- en grondverskuiwingsmaatskappy. Naas beeste boer Dewald onder meer met mielies en soja-, suiker- en mungbone.

 

‘n Gedugte familieboerdery te sien in Landbouweekliks se 100ste episode!

Die gedugte pa-en-seunspan Hugo en Rian Maree van die Rihugo-boerdery naby Piet Retief is vandeesweek te sien op Landbouweekliks se 100ste episode! Rihugo-boerdery het buiten ’n gesogte, bekroonde Brahmanboerdery ook ’n saaivertakking met ’n geenbewerkingsbenadering en makadamias. Piet Retief is weens sy suurveldweiding nie goeie beeswêreld nie, maar danksy streng seleksie en doelgerigte teling vir aangepaste beeste maak Rihugo Brahmane meer geld met sy beeste as menige boer in gunstiger gebiede. Goeie voervloei speel ’n belangrike rol in hul sukses.

Beesboer se sukses is oor generasies opgebou

Landbouweekliks besoek vandeesweek Arthur de Villiers van Arcadia Bonsmara in die Vrystaat. Dié bekroonde stoetbeesteler van die Vrededistrik in die Oos-Vrystaat is sinoniem met Bonsmaras en bou voort op ’n reputasie wat oor geslagte opgebou is. Die stoetery het in 1937 die lig gesien en in 1958 is Bonsmaras vir die eerste keer in die kudde ingebring. Arthur bespreek graag sy kennis en ondervinding en het al verskeie rubrieke en raadgewende artikels in landboupublikasies geskryf.

Toewyding en omgee lei tot sukses vir Schoonbee-landgoed

Landbouweekliks besoek vandeesweek die Schoonbee-landgoed naby Groblersdal in Limpopo. Dié gesiene familiebesigheid is in 1950 op die been gebring en beslaan nou amper 3 000 ha oor drie produksiegebiede. Vandag voer hierdie boerdery sitrus en tafeldruiwe uit na 33 lande, hoofsaaklik in die Noordelike Halfrond, en is ook betrokke by wildteeltprojekte met eksotiese en inheemse wild. Hulle bedryf ook ’n uitgebreide bemagtigingsinisiatief in die Loskopvallei, waar hul wortels diep lê.

 

 

Afrikanerbeesboer werk hard, hou aan verbeter

Pieter de Kock van Thabazimbi in Limpopo het ’n besondere liefde vir die Afrikanerbeesras wat gedy ten spyte van erge strestoestande. Hy voorsien ook vleis aan AfriBeef, ’n handelsmerk wat geskep is om veral die vleissagtheid van hierdie ras te bemark. Pieter is passievol oor die oordrag van kennis aan die jonger geslag en sy Pronk-Afrikanerstoetery is as die Landbounavorsingsraad se Vleisbeesverbeteringskudde van die Jaar vir 2019 bekroon.

 

Boerebroers woeker met familieplaas

Ons kuier by mnr. Riaan Strydom van die Bokmakierie-boerderytrust op Krakeelrivier naby Joubertina. Hy is in 2018 aangewys as die Oos-Kaap se Jongboer van die Jaar en boer saam met sy broer, Mario, in die Langkloof met appels, pere, hoenders en varke. Die broers het op die grond wat hulle aanvanklik as ’n vrugteplaas geërf het, ’n topvleisproduksie-eenheid tot stand gebring. Hul produkte word aan handelaars selfs tot by George en Port Elizabeth versprei.

Landbouweekliks: Bonsmaras is dié boer se trots!

Landbouweekliks kuier by mnr. Justin Stirk, wat ’n gemengde boerdery bedryf in die distrik Southwell in die Oos-Kaap. Vertakkings sluit in sigorei, makadamianeute, pikantrissies, mielies, Bonsmarakoeie en Boerbokooie. Justin se beeste is sy trots en hy is ook ’n lid van die Frontier Bonsmaras-groep. “Ander mense het stokperdjies, maar ek hou daarvan om beeste te teel,” sê hy oor sy liefde vir die Bonsmaras. Die droogte het vanjaar sy produksie beperk, maar Justin is positief oor die toekoms.

 

Toppynappelboer glo in voortdurende verbetering

Landbouweekliks kuier by mnr. Mark Harris, Suid-Afrika se grootste pynappelprodusent, wat ook ’n versappingsnismark oorsee benut. “Voortdurende verbetering eerder as ’n grootknal-gebeur- tenis,” is dié boer van Bathurst in die Oos- Kaap se beskrywing van hoe Langholm Farms daarin geslaag het om sy pynappelproduksie van 800 ton in 1988 tot 16 000 ton te verhoog. ’n Kudde Bonsmaras (200 kommersiële teelkoeie) benut ook gebiede wat nie vir pynappelproduksie gebruik word nie.