Beesboer gaan van geoktrooieerde rekenmeester na Stoetteler van die Jaar!

John Devonport, ’n geoktrooieerde rekenmeester, wou nog altyd boer. Hy en sy vrou, Tracey, ’n sakevrou, het in 1988 ’n plaas vir ontspanningsdoeleindes gekoop aan die Vaaldam se boonste oewer naby Villiers. Water’s Edge front 20 km lank aan die dam en huisves die veelbekroonde Devlan Limousin-stoetery. John was in 2006 Breedplan se SA Stoetteler van die Jaar.

 

Leierboer behaal onverwagte sukses in varkbedryf

Neil Dry, president van die Suid-Afrikaanse Varktelersgenootskap, wat vanjaar sy 100ste bestaansjaar vier, het nooit gedink hy sou met varke boer nie. Die Niemen-stoetery naby Magaliesburg is egter in 1997 met net ses wit sôe en een Landras- beer begin en opgebou tot ’n veelbekroonde varkboerdery, waaronder eerste plekke in SA Stamboek se kompetisie vir varkstoeterye.

Weeg-en-Wen-wenners fokus op grondgesondheid

Michael Allen van die plaas Hartebeesfontein, naby Middelburg in Mpumalanga, en sy seun, Gareth, pas al jare lank presisieboerdery toe met mielies en sojabone. Hulle was ook al meermale wenners in Pioneer se Weeg-en-Wen-kompetisie. Michael se geheim is sy erns met grondstatus en hy sê grondgesondheid is sekerlik die grootste oorweging om top-oeste te behaal.

Danie Thomas se spogboerdery van die grond af opgebou

Danie Thomas van Edenville in die Vrystaat het reeds op 12-jarige ouderdom sy eerste melkkoei met spaargeld gekoop en op 17 alleen begin boer. Vandag is sy stoeterye en kommersiële kuddes dié skaapboer se trots. Ná verskeie ander draaie en terugslae herskryf hy deesdae die rekordboeke op veilings met sy suksesvolle Kairos Dormerstoetery.

 

Limpopo-melkboer lewer meer as 10 miljoen liter melk per jaar

Joubert Fourie van Limpopo Dairy by Louis Trichardt is vanjaar SA Stamboek se wenner van die Noord-streek se Elite-suiwelprys. In 1984 het die Fouries sowat 1 200 liter melk per dag gelewer, maar deesdae is hul jaarlikse produksiesyfer meer as 10 miljoen liter.

 

Dries Visser: Ware wildboere is oor ná bedryf gesif is

Dries Visser, ’n wildboer van Thabazimbi in Limpopo, en sy seun, Dries jr., teel onder meer waardevolle vlakte- en skaars wildsoorte en reël safari’s vir oorsese jagters. Dries sê die wildbedryf het ’n nuwe era betree. Hy gebruik jagters om sy wildkuddes intensief te bestuur en meen die droogte en laer wildpryse het die bedryf gesif sodat net ware wildboere oorgebly het.

 

 

Bewaringsboerdery maak die verskil vir Egon Zunckel

Egon Zunckel en sy twee seuns, Tyson en Carl, vorm die driemanskap van Zunckel Farms naby Bergville in KwaZulu-Natal. Egon, ’n bewaringsboer wat met mielies, sojabone, koring, beeste en dekgewasse boer, sê hy sou nooit sonder bewaringsbewerking die oeste behaal het wat hy afhaal nie. Sy grootste fout, sê hy, is dat hy nie vroeër daarmee begin het nie.

 

Boer werp alles in die stryd om bye te red

Craig Campbell, die man agter Peel’s Honey, is ’n byeboer by Howick in KwaZulu- Natal en lid van die raad van die Suid-Afrikaanse Byebedryfsorganisasie (Sabio). Hy bestuur sowat 7 500 byekolonies en werp alles in die stryd om bye van uitwissing te help red. Craig was ook verlede jaar betrokke by die bekendstelling van ’n handves vir bestuiwers.

 

Suksesvolle skaapboer fokus op geleenthede met sy Merino’s

Julian Southey, ’n Merino-man in murg en been, boer saam met sy twee seuns, Rob en Stuart, naby Middelburg in die Oos-Kaap. Hy glo daar is meer geleenthede as onoorkombare hekkies in die lewe, ondanks talle struikelblokke. Julian is ’n vierdegeslag-Merinoboer en 2016 se Nasionale Skaapboer van die Jaar. Sy familie boer al sedert 1860 met Merino’s.

 

NWKV en kommunale boere maak ‘n wenspan

Die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) het sowat 27 000 kommunale lede wat meer as 4 miljoen skape besit en jaarliks sowat 6 miljoen kilogram wol skeer. Dit verteenwoordig 13% van die Suid-Afrikaanse skeersel. Die NWKV was die afgelope 20 jaar betrokke om hierdie boerderye en wolproduksie ’n hupstoot te gee.